'Moenie nou teen Afrikaperdesiekte inent'

Terwyl Namibië vir twee jaar gesukkel het om entstof teen die verwoestende Afrikaperdesiekte van Onderstepoort in Suid-Afrika in die hande te kry (wat wel nou beskikbaar is), is talle gevalle van perdesiekte sedert Februarie tydens die reënseisoen aangemeld.

Volgens die Windhoekse veearts, dr. Theuns Laubscher, is die situasie kritiek.

“Ek het reeds tussen 150 en 200 perde behandel, waarvan ongeveer 20% gesterf het en dit sluit nie eens die plase in wat ons nie kon bereik nie,” het hy tydens ’n TV-onderhoud met Agri Monitor gesê.

Volgens nog ’n Windhoekse veearts. dr. Wolfgang Spaeth, het hy in die Seeis-omgewing drie perde weens perdesiekte verloor en vyf van sy 28 siek perde het positief vir die siekte getoets.

’n Arabierperdteler van Gobabis, WP Michau van Skai Arabians, het bevestig dat hy twee perde verloor het, terwyl nog twee ernstig siek is. Nog vermoedelike gevalle het in die Gobabis-distrik voorgekom, asook in die Dordabis-omgewing en die noorde van die land.

Laubscher waarsku die entstoftekorte van die afgelope jare, gekombineer met ongepaste inenting, speel ’n groot rol in die huidige krisis.

“Ons het vir twee jaar geen entstof gehad nie en ons het vir twee jaar in die hele land net twee gevalle per jaar gehad. Nou vra ek, is dit nie potensieel as gevolg van mense wat verkeerd ingespuit het nie?”

Laubscher het bevestig dat eienaars van skouperde, asook diegene wat aan uithouritte deelneem, tot dusver nie geraak is nie, omdat hulle meestal op stal staan. Hy het gesê perde wat op plase in kampe loop, dra die grootste risiko.

Die virus, wat deur Culicoides-muggies versprei word, is endemies aan Afrika, maar het vanjaar ’n ongekende impak gehad weens die goeie reënval en ’n tekort aan entstof die afgelope twee jaar.

Die onlangse milde reën het gunstige broei-omstandighede vir die draende muggies geskep. Die gevolglike inentingpaniek vererger die probleem, waarsku veeartse. Volgens hulle is muggiebeheer die beste oplossing.

“Moenie nou inent nie, asseblief. Een perd het minstens ses tot sewe entings oor ’n paar jaar nodig om behoorlike immuniteit op te bou,” het Laubscher beklemtoon.

Goi Geurtse, die bedryfsbestuurder en direkteur by Swavet, het verlede jaar aan Agri Monitor bevestig hoe die maatskappy die afgelope twee jaar gesukkel het om voldoende entstof van Onderstepoort te kry, maar dit is nou wel beskikbaar. Hy maan ook dat perde nie nou ingeënt moet word nie.



SIMPTOME

Laubscher het verder gesê dit is nie net ’n siekte wat perde siek maak nie, dit is ’n spesifieke virus wat die binnewande van die are aantas, en uiteindelik veroorsaak dat die longe met vloeistof vul. Die perd verduur letterlik ’n vorm van verdrinking.”

Hy beskryf ook die simptome: “Dikkop is aggressief, ’n dier is een dag gesond en die volgende dood. By Dikkop sien ons hoe die ore en nek begin swel en uiteindelik, wanneer afsterwing plaasvind, sien jy geel skuim uit die bek en snoet, dis letterlik asof hulle verdrink.”

Tot op hede is geen navrae Donderdag oor statistieke van aangemelde voorvalle en sterfgevalle aan die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming beantwoord nie, asook geen antwoorde van die departement van veeartsenydienste nie, ondanks herhaalde versoeke.

Laubscher sluit af met ’n dringende beroep aan boere en perde-eienaars.

“As jou dier siek is, bel jou veearts, moenie eksperimenteer of wag nie. Vinnige optrede kan lewens red.”

* Moenie die onderhoud met Laubscher op Agri Monitor vandag om 20:30 op oneuptwo.com en op DStv (285) en GOtv (25) in Namibië misloop nie.

Advertisments